Die Atterbury Trust, ‘n Publieke voordeelorganisasie, is al vir amper 25 jaar werksaam is onder spesifiek Afrikaanse gemeenskappe (oor kleurgrense heen). Die oogmerke van die Atterbury Trust is bevordering van opvoedingsgeleenthede, ondersteuning van kuns en kultuur en die opheffing van gemeenskappe deur die Trust se voedselverskaffingsinisiatief, Terugploeg.
Opvoeding - die Atterbury Trust het reeds meer as 730 rentevrye beurslenings vir tersiêre studies toegestaan aan behoeftige Afrikaanse studente – ongeveer 600 van hierdie studente het reeds hulle grade behaal en dra by tot die arbeidsmark. Daar studeer vanjaar weer 96 studente met ons hulp. Die Atterbury Trustspan bied omvattende ondersteuning aan studente met ‘n lewensafrigter, mentorskapondersteuning en gereelde studente-interaksie met beursstudente. Die deurvloeikoers van ons studente oor die afgelope 24 jaar is in die omgewing van 97%!
Ons is ‘n span van tien mense wat vanuit Atterbury se Stellenboschkantoor werk asook in Pretoria. Ons is hard besig om ons werksaamhede na die Wes-Kaap uit te brei en ook daar meer boere en donateurs te werf.
Die Atterbury Trust is gedeeltelik afhanklik van donasies van die publiek om beurse moontlik (en meer!) te maak. Soos hierbo genoem, is die Atterbury Trust geregistreer as Publieke Voordeel organisasie wat ‘n Artikel 18-sertifikaat vir donasies uitreik en donateurs dit van belasting kan aftrek. Ons is ook altyd opsoek na mense en organisasies wat persoonlik betrokke kan raak by ons studente as mentors of die bied van vakansiewerk- of werksgeleenthede as hulle afstudeer het.
Ons staan ook ‘n aantal skole in behoeftige gebiede by met finansiële en voedselhulp.
Terugploeg is ‘n voedselverskaffings- en verwerkingsfasiliteit wat tydens die grendeltydperk onder die vaandel van die Trust begin is. Met die hulp van groothartige boere kon ons reeds meer as 352 ton kos via ongeveer 97 organisasies onder behoeftige gemeenskappe versprei. Vir hierdie inisiatief is ons steeds op soek na meer boere wat groente, vrugte of wildsvleis wil skenk. Of mense en organisasies wat kan help met opleiding en werkskepping.